|
DIE ESSENSIE
DIE ESSENSIE
Daar is geen een-dimensionele woordeboekdefinisie van meditasie nie, en geen metafoor verhelder dit ten volle nie. Maar dit kan vergelyk word met ‘n pêrel van onskatbare waarde; die een ding wat meer “nodig” (essensieel) as alle ander dinge is. Jesus het gesê die Koninkryk van die Hemele is soos ‘n skat wat verborge is in ‘n saailand, wat ‘n man daar vind en daar wegsteek. Uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Jesus se woorde was voorts dat die koninkryk van die hemele is soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy ‘n baie kosbare pêrel vind, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit. Matteus 13: 44-6
Meditasie is soos ‘n anker wat ons help om stadiger, gevoeliger en noukeuriger te leef en orde te bring in die chaos van die innerlike. Dis die enkele vermoë wat alle ander vermoëns onderlê, soos om na die see te luister; om ‘n vriendskap wat groei en gedy, te geniet; of om te konsentreer op ‘n saak waarvan die oplossing al ons krag en aandag verg.
Meditasie is vir die gees wat asemhaal is vir die liggaam. Dis ‘n doodnatuurlike proses wat ons die ruimte gee waarbinne ons onsself kan wees, waar ons nie verskoning hoef te maak vir onsself nie; nie regverdiging te soek vir onsself nie, waar ons geen ingewikkelde teorie hoef te begryp of geen tegniek hoef te bemeester nie. Ons hoef net te wees en in ons diepste wese te ervaar hoe goed die lewe is, watter ontsaglike waardevolle geskenk dit is. Elke meditasie is ‘n nuwe begin wat ons deur middel van groot eenvoud leer om minder verstoorbaar te word, minder afhanklik van eksterne stimuli en goedkeuring vir ‘n gevoel van tevredenheid en balans.
Op ‘n konsepsuele vlak kan mens natuurlik op baie maniere oor meditasie praat soos bv “ontdekking van die Self”; “ontmoeting met die Ander” maar dit weerspieel nog nie die essensie van meditasie nie. Die woord lê naby aan “medikasie” en impliseer ‘n proses wat die teerste en waardigste aandag, sorg en respek wat ons maar kan, aan die Self kan gee. Ons is hier nie net om die werk van God te doen nie, maar ook om toe te laat dat Sy werk in ons voltrek word. Ons werk hier is om ons wese en kern oop te stel vir die oorsprong daarvan; nie net ten dele nie en nie net partykeer nie, maar volledig en voortdurend. Ons moet dus leer om wat ons is, te laat spreek … ons moet na ons selwe luister en nie aan ons selwe dikteer nie.
Aandag, in sy hoogste vorm, is dieselfde as gebed: dis die kern van gebed of die hart van gebed. Daarom word meditasie, wat ‘n suiwer vorm van aandag is, ook suiwer gebed genoem. Meditasie skep ruimte vir die Gees van God om deur ons te bid. Sodat ons kan begin om te luister. Maar die kern van gebed neem my op ‘n pelgrimstog na my eie kern sodat ek tot ware self-kennis kom.
Ongeag wat ons beskouiing is oor wat die essensie of doel van die lewe is – of dit is om die pêrel te vind, die koninkryk van die hemele te beërwe, of om ‘n visie van God te hê – ons opdrag bly dieselfde: Ons moet onsself ken indien ons geken wil word. Onsself liefhê, versorg, respekteer. Hierdie is nie kennis van die Vals Self wat berus op fassinasie met die self of deur ‘n preokkupasie met die self verkry word nie. Dis nie die soort liefde wat die ego in die middelpunt plaas en ander dinge daaraan ondergeskik wil stel nie. Dis kennis van die Ware Self wat ons in staat stel om met groter gemak te sê wie die Ander is.
To find our own centre is the reverse of becoming self-centred. It is to awaken to the centre beyond ourselves, whence we are created and to which we return with Christ, the centre where we find ourselves and Him in that experience of communion we call the Kingdom. Dom John Main (1926-82), The Present Christ
We can only serve selflessly to the extent to which the Self is known (Freeman).
Daar is talle dinge wat self-kennis blokkeer. Uit gewoonte bly ons versonke in die ego of ons gaan op in ekstase en hoë vlakke van stimuli wat in oormaat deur ons kultuur opgedwing word. Dan is daar die veranderlikheid van ons gedagtes en gevoelens; ons omstandighede; ons beheptheid met die liggaam; die geraas, haas en skares.. Ons projekteer ons illusies en vals konsepte op diegene om ons en op God. Ons verval in selfbewustheid, selfgesentreerdheid, selfbeheptheid, selfgenoegsaamheid, self-dramatisering wat ons noop om altyd in beheer te wees. Dis maklik om te ooridentifiseer met ons individuele identiteit, of om slaaf te word van ons begeerte na die dinge van die wêreld. So stel ons uiteindelik ons eie geestesgesondheid in gevaar. Om tot groter self-kennis te kom moet ek as’t ware die baie gesigte van die “ek” leer om nie in die pad van sy Lig te staan nie. Dan kan God se beeld sigbaarder skyn in my. Die wildernis van interne en eksterne geraas moet getem word. Dit veronderstel dat ek my kondisionering oor wie ek is en waar ek my aandag behoort te plaas, moet afskud, en God moet toelaat om my wese aan te raak en te verander volgens my eie unieke roeping en samestelling.
Meditasie onderbreek die obsessiewe gewoontes van die ego en help ons om ons bewussyn te verhelder en te verskerp. Dan herken ons Hom vir wie Hy is as Jesus in Lukas 9 vra: “En julle, wie sê julle is Ek?”
Bedaar en weet dat Ek God is.Psalm 46:10
Liefde in aksie is ‘n harde en vreesaanjaende ding vergeleke met liefde wat in drome leef. Liefde in drome is gretig vir onmiddellike handeling, wat vinnig ten aanskoue van almal verrig word. Mense sal selfs hulle lewens aflê as die beproewing tog net nie te lank hoef te duur nie maar vinnig verby kan wees terwyl almal toekyk en milde applous uitdeel in die verhoog se rigting. Maar liefde verg diensvaardigheid en lewensmoed ... Net sodra jy tot jou ontsteltenis besef dat jy, ten spyte van jou beste pogings, verder van jou doel af wegdrywe in stede van nader daaraan te beweeg – op daardie einste oomblik – verwesenlik jy dit en doem die wonderbaarlike krag van die Here, wat jou deurentyd liefdevol en onopsigtelik gelei het, helder voor jou op. Fyodor Dostoevsky (1821-81) The Brothers Karamazov.
Die wonder van ons verhouding met God beslaan so ‘n wye skilderdoek dat ons slegs deur ons vermoë vir verwondering en ootmoedige stilte te verdiep, ooit in staat kan wees ‘n selfs net ‘n deeltjie daarvan te beleef. Ons weet dat God ten nouste met ons is, en ons weet ook dat hy oneindig meer is as ons. Dit is slegs deur middel van ‘n diep bevrydende stilte dat ons die pole van hierdie raaiselagtige paradoks met mekaar kan versoen. En die bevryding wat ons ervaar in stille gebed is juis ‘n bevryding van die noodwendige vervormings wat taal teweeg bring wanneer ons begin om God se intieme en voortreflike heerskappy van ons innerlike bestaan te beleef. John Main Word into Silence 7.
|